Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 12:35-46 Afrikaans 1983 (AFR83)

35. Toe sê Jesus vir hulle: “Nog net 'n kort tydjie is die lig by julle. Lewe in die lig terwyl julle dit het sodat die duisternis julle nie oorval nie. Wie in die duisternis lewe, weet nie waar hy gaan uitkom nie.

36. Terwyl julle die lig het, moet julle in die lig glo, sodat julle mense van die lig kan wees.”Dit het Jesus gesê en daarna van hulle af weggegaan en Hom skuil gehou.

37. Alhoewel Jesus so baie wondertekens voor die mense gedoen het, het hulle tog nie in Hom geglo nie.

38. So moes die woorde van die profeet Jesaja vervul word:“Here, wie het geglowat ons gehoor het?En aan wie is die mag van die Heregeopenbaar?”

39. Waarom hulle nie kon glo nie, sê Jesaja ook elders:

40. “God het hulle oë blind gemaaken hulle verstand laat afstompsodat hulle nie met hulle oë kan sienen met hulle verstand kan verstaanen hulle bekeeren Ek hulle gesond maak nie.”

41. Jesaja het dit gesê omdat hy die heerlikheid van die Here gesien en oor Hom gepraat het.

42. Nietemin het selfs baie van die lede van die Joodse Raad tog ook tot geloof in Hom gekom, maar uit vrees vir die Fariseërs het hulle dit nie openlik bely nie, sodat hulle nie uit die sinagoge geban sou word nie;

43. want hulle het verkies om liewer deur mense geëer te word as deur God.

44. Toe het Jesus uitgeroep: “Wie in My glo, glo nie net in My nie maar ook in Hom wat My gestuur het.

45. En wie My sien, sien ook Hom wat My gestuur het.

46. Ek het as die lig na die wêreld toe gekom, sodat dié wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie.

Lees volledige hoofstuk Johannes 12