Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 11:30-41 Afrikaans 1983 (AFR83)

30. Jesus het nog nie in die dorp aangekom nie, maar was nog op die plek waar Marta Hom ontmoet het.

31. Toe die Jode wat by Maria in die huis was en haar vertroos het, sien dat sy vinnig opstaan en uitgaan, het hulle agter haar aangegaan omdat hulle gedink het sy gaan na die graf toe om daar te huil.

32. Toe Maria daar aankom waar Jesus was en Hom sien, het sy by sy voete gekniel en vir Hom gesê: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie.”

33. Toe Jesus sien dat Maria huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan.

34. Hy vra toe: “Waar het julle hom begrawe?”Hulle het vir Hom gesê: “Here, kom kyk.”

35. Jesus het gehuil.

36. Die Jode sê toe: “Kyk hoe lief het hy hom gehad!”

37. Party van hulle het ook gesê: “Kon hy wat die oë van die blinde man genees het, nie ook gemaak het dat hierdie man nie sterwe nie?”

38. Jesus se gemoed het weer vol geskiet toe Hy by die graf kom. Dit was 'n rotsgraf, en daar was 'n klip voor die ingang gerol.

39. Jesus sê toe: “Rol die klip weg.”Maar Marta, die suster van die oorledene, sê vir Hom: “Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.”

40. Jesus sê toe vir haar: “Het Ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sien nie?”

41. Hulle het toe die klip weggerol. Jesus het opgekyk boontoe en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het.

Lees volledige hoofstuk Johannes 11