Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 11:25-33 Afrikaans 1983 (AFR83)

25. Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook;

26. en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”

27. “Ja, Here,” sê sy vir Hom, “ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”

28. Nadat sy dit gesê het, het sy haar suster Maria gaan roep en saggies vir haar gesê: “Ons Leermeester is hier, en Hy roep jou.”

29. Toe sy dit hoor, het sy gou opgestaan en na Hom toe gegaan.

30. Jesus het nog nie in die dorp aangekom nie, maar was nog op die plek waar Marta Hom ontmoet het.

31. Toe die Jode wat by Maria in die huis was en haar vertroos het, sien dat sy vinnig opstaan en uitgaan, het hulle agter haar aangegaan omdat hulle gedink het sy gaan na die graf toe om daar te huil.

32. Toe Maria daar aankom waar Jesus was en Hom sien, het sy by sy voete gekniel en vir Hom gesê: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie.”

33. Toe Jesus sien dat Maria huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan.

Lees volledige hoofstuk Johannes 11