Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 10:28-42 Afrikaans 1983 (AFR83)

28. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.

29. Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.

30. Ek en die Vader is een.”

31. Die Jode het toe weer klippe opgetel om Hom te stenig,

32. maar Jesus sê vir hulle: “Op gesag van die Vader het Ek julle talle goeie dade laat sien. Oor watter een daarvan wil julle My stenig?”

33. “Dis nie oor 'n goeie daad dat ons jou wil stenig nie,” antwoord die Jode Hom, “maar oor godslastering, omdat jy, wat 'n gewone mens is, jou as God voordoen.”

34. Daarop sê Jesus vir hulle: “Staan daar nie in julle wet geskrywe: ‘Ek het gesê: Julle is gode’ nie?

35. God noem hulle tot wie sy woord gekom het, dus ‘gode’, en wat daar geskrywe staan, kan nie verander word nie.

36. Hoe sê julle dan vir My wat deur die Vader afgesonder en na die wêreld toe gestuur is: ‘Jy praat godslasterlik’, omdat Ek gesê het: ‘Ek is die Seun van God’?

37. As Ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle nie in My glo nie.

38. Maar as Ek dit wel doen en julle tog nie in My glo nie, moet julle ten minste aan die werke glo, sodat julle kan insien en weet dat die Vader in My en Ek in die Vader is.”

39. Hulle wou Hom toe weer gevange neem, maar Hy het hulle ontglip.

40. Hy het teruggegaan na die plek oorkant die Jordaan waar Johannes vroeër gedoop het, en daar gebly.

41. Baie mense het na Hom toe gekom. Hulle het gesê: “Johannes het wel geen wonderteken gedoen nie, maar alles wat Johannes oor hierdie man gesê het, is waar.”

42. Baie mense het daar tot geloof in Hom gekom.

Lees volledige hoofstuk Johannes 10