Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 10:15-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

15. net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape.

16. Ek het nog ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook lei. Hulle sal na my stem luister, en hulle sal een kudde wees met een herder.

17. “Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem.

18. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af. Ek het die volmag om dit af te lê, en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van my Vader ontvang het.”

19. Daar het toe verdeeldheid onder die Jode gekom oor hierdie woorde.

20. Baie van hulle het gesê: “Hy is van die duiwel besete, hy is mal! Hoekom luister julle nog na hom?”

21. Ander het gesê: “Dit is nie die woorde van 'n besetene nie. 'n Duiwel kan tog nie blindes se oë genees nie?”

22. Dit was daardie tyd die fees van die tempelwyding in Jerusalem, en dit was winter.

23. Jesus het in die tempel in die Pilaargang van Salomo geloop.

24. Die Jode het daar om Hom saamgedrom en vir Hom gesê: “Hoe lank gaan u ons nog in onsekerheid hou? As u die Christus is, sê dit reguit vir ons.”

25. Jesus antwoord hulle toe: “Ek het dit vir julle gesê, en tog glo julle nie. Die dade wat Ek in die Naam van my Vader doen, bewys wie Ek is.

26. Maar julle glo nie, omdat julle nie van my skape is nie.

27. My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My.

28. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.

29. Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.

30. Ek en die Vader is een.”

31. Die Jode het toe weer klippe opgetel om Hom te stenig,

32. maar Jesus sê vir hulle: “Op gesag van die Vader het Ek julle talle goeie dade laat sien. Oor watter een daarvan wil julle My stenig?”

Lees volledige hoofstuk Johannes 10