Ou Testament

Nuwe Testament

Jakobus 5:8-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. Julle moet ook geduldig wag en moed hou, want dit is nie meer lank nie, dan kom die Here.

9. Moenie oor mekaar kla nie, broers, sodat julle nie veroordeel word nie. Die Regter staan al voor die deur.

10. Broers, neem die profete wat in die Naam van die Here gepraat het, as voorbeelde van lyding en geduld.

11. Ons noem hulle geseënd omdat hulle volhard het. Julle het gehoor van die volharding van Job en julle het gesien waarop die Here dit laat uitloop het. Die Here is immers ryk aan barmhartigheid en ontferming.

12. My broers, dit is baie belangrik dat julle nie 'n eed moet aflê nie, nie by die hemel nie, nie by die aarde nie en ook nie enige ander eed nie. As julle “ja” sê, moet dit “ja” wees; as julle “nee” sê, moet dit “nee” wees. Dan sal julle nie veroordeel word nie.

13. As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid. As daar iemand is wat opgeruimd is, moet hy lofliedere sing.

14. As daar iemand van julle is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet vir hom bid en hom met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here.

15. En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak. As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word.

16. Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.Die gebed van 'n gelowige het 'n kragtige uitwerking.

17. Elia was 'n mens net soos ons. Hy het ernstig gebid dat dit nie moet reën nie, en in die land het dit drie jaar en ses maande lank nie gereën nie.

18. Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy oes gelewer.

19. My broers, as een van julle van die waarheid afdwaal en iemand sou hom terugbring,

20. weet dan dat hy wat 'n sondaar van sy dwaalweg terugbring, hom uit die dood red en maak dat 'n menigte sondes vergewe word.

Lees volledige hoofstuk Jakobus 5