Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 7:3-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. Niks is bekend omtrent sy vader en moeder of sy afstamming of die begin en einde van sy lewe nie. Hy is soos die Seun van God en hy bly priester vir altyd.

4. Let nou op hoe groot hierdie man was aan wie Abraham, die stamvader, 'n tiende van die beste oorlogsbuit gegee het.

5. Die priesters wat van Levi afstam, het volgens die bepaling van die wet die reg om 'n tiende in te vorder van die volk, dit wil sê van hulle broers, wat net soos hulle ook afstammelinge van Abraham is.

6. Maar Melgisedek, wat nie van Levitiese afstamming was nie, het van Abraham 'n tiende geneem en hom, aan wie God sy beloftes gegee het, geseën.

7. Dit is onbetwisbaar dat dit altyd die mindere is wat deur die meerdere geseën word.

8. In die geval van die Levitiese priesters is dit sterflike mense wat tiendes invorder, maar in die geval van Melgisedek iemand van wie getuig word dat hy lewe.

9. 'n Mens kan sê dat ook Levi, wat tiendes invorder, deur Abraham aan Melgisedek die tiende gegee het,

10. want Levi was nog in die liggaam van die stamvader toe Melgisedek vir Abraham tegemoet gegaan het.

11. Dit was in samehang met die Levitiese priesterskap dat die volk die wet van Moses ontvang het. As hierdie priesterskap volmaaktheid kon bewerk, waarom was dit dan nog nodig dat 'n ander priester volgens die priesterorde van Melgisedek aangestel moes word, van wie daar nie gesê word dat hy 'n priester volgens die orde van Aäron sou wees nie?

12. As daar 'n ander priesterskap kom, volg noodwendig ook 'n verandering van die wet.

13. Hy van wie hierdie dinge gesê word, behoort juis tot 'n ander stam, waaruit niemand ooit by die altaar diens gedoen het nie.

14. Dit is algemeen bekend dat ons Here van Juda afstam, en in verband met daardie stam het Moses niks oor die priesterskap gesê nie.

15. Die saak word nog duideliker as ons daaraan dink dat die ander priester wat te voorskyn tree, ooreenkom met Melgisedek,

16. deurdat Hy priester word nie deur die bepaling van die wet oor menslike afstamming nie, maar deur die krag van onvernietigbare lewe.

17. Van Hom word getuig:“Jy is priester vir ewig volgens die priesterorde van Melgisedek.”

18. Aan die een kant word die vroeëre bepaling dus afgeskaf vanweë die kragteloosheid en nutteloosheid daarvan:

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 7