Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 7:12-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. As daar 'n ander priesterskap kom, volg noodwendig ook 'n verandering van die wet.

13. Hy van wie hierdie dinge gesê word, behoort juis tot 'n ander stam, waaruit niemand ooit by die altaar diens gedoen het nie.

14. Dit is algemeen bekend dat ons Here van Juda afstam, en in verband met daardie stam het Moses niks oor die priesterskap gesê nie.

15. Die saak word nog duideliker as ons daaraan dink dat die ander priester wat te voorskyn tree, ooreenkom met Melgisedek,

16. deurdat Hy priester word nie deur die bepaling van die wet oor menslike afstamming nie, maar deur die krag van onvernietigbare lewe.

17. Van Hom word getuig:“Jy is priester vir ewig volgens die priesterorde van Melgisedek.”

18. Aan die een kant word die vroeëre bepaling dus afgeskaf vanweë die kragteloosheid en nutteloosheid daarvan:

19. die wet het nie volmaaktheid bewerk nie. Aan die ander kant het 'n beter hoop ingetree, waardeur ons tot God nader.

20. Dit het nie sonder die bevestiging met 'n eed plaasgevind nie. Die Leviete het wel priesters geword sonder die bevestiging met 'n eed,

21. maar Jesus met 'n eed deur God, wat vir Hom gesê het:“Die Here het dit met 'n eed bevestig en Hy sal dit nie herroep nie: ‘Jy is priester vir ewig.’ ”

22. So het Jesus ook van 'n beter verbond borg geword.

23. Daar is ook 'n ander verskil: omdat die dood die Levitiese priesters verhinder het om aan te bly, was daar baie wat mekaar opgevolg het.

24. Omdat Jesus vir ewig bly, beklee Hý 'n priesterskap wat nie op 'n ander oorgedra word nie.

25. Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.

26. Vir ons was so 'n hoëpriester nodig, een wat heilig, skuldeloos en sonder smet is, verwyder uit die midde van die sondaars en verhoog bo die hemele,

27. een wat nie, soos die hoëpriesters, elke dag offers hoef te bring, eers vir sy eie sondes en dan vir dié van die volk nie. Hy het immers eens en vir altyd 'n offer vir die sondes gebring toe Hy Homself geoffer het.

28. Die wet stel mense as hoëpriesters aan, en mense het swakhede; maar die uitspraak wat met 'n eed bevestig is en wat ná die wet gekom het, stel die Seun aan as ewige en volmaakte Hoëpriester.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 7