Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 4:4-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. want êrens in die Skrif word van die sewende dag dit gesê: “En God het op die sewende dag gerus van al sy werk,”

5. terwyl hier weer gesê word: “In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie.”

6. Dié wat vroeër die blye boodskap gehoor het, het dus vanweë hulle ongehoorsaamheid nie in sy rus ingegaan nie, maar vir sommige bly die moontlikheid bestaan om weer in sy rus in te gaan.

7. God het immers weer 'n dag bepaal, naamlik “vandag” wanneer Hy, soos reeds voorheen aangehaal, soveel later by monde van Dawid sê:“Vandag, as julle sy stem hoor,moet julle nie hardkoppig wees nie.”

8. As Josua hulle in die rus laat ingaan het, sou God nie daarná nog van 'n ander dag gepraat het nie.

9. Daar wag dus nog steeds 'n sabbatsrus vir die volk van God,

10. want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne.

11. Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand hulle voorbeeld van ongehoorsaamheid navolg en ook omkom nie.

12. Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.

13. Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.

14. Terwyl ons dan nou 'n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely.

15. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie.

16. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 4