Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 4:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Petrus en Johannes was nog besig om met die mense te praat toe die priesters, die bevelvoerder van die tempelwag en die Sadduseërs op Petrus-hulle afstorm.

2. Die priesters en die ander was onthuts omdat die apostels die mense geleer het en verkondig het dat die opstanding uit die dood deur Jesus se opstanding 'n werklikheid geword het.

3. Hulle het Petrus en Johannes gevange geneem, en hulle, omdat dit al laat was, in die tronk gesit tot die volgende môre.

4. Tog het baie van die mense wat hulle prediking gehoor het, gelowig geword; en die getal gelowiges het aangegroei tot omtrent vyf duisend.

5. Die volgende môre het die raadslede, die familiehoofde en die skrifgeleerdes in Jerusalem vergader.

6. Ook die hoëpriester Annas, en Kajafas, Johannes, Aleksander en al die ander lede van die hoëpriesterlike familie was teenwoordig.

7. Hulle het die apostels voor hulle laat bring en hulle ondervra: “Deur watter krag en in wie se naam het julle dit gedoen?”

8. Toe het Petrus, vol van die Heilige Gees, vir hulle gesê: “Raadslede van die volk, en familiehoofde,

9. julle verhoor ons vandag oor 'n weldaad aan 'n siek man en oor hoe hy gesond gemaak is.

10. Julle almal en die hele volk Israel moet weet dat dit in die Naam van Jesus Christus van Nasaret is dat hy hier gesond voor julle staan — dié Jesus vir wie julle gekruisig het, maar wat God uit die dood opgewek het.

11. Hy is“die klip wat deur julle, die bouers, afgekeur is.Juis Hy het die belangrikste klip in die gebou geword.

12. “Hý bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.”

13. Die Joodse Raad was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien, want die Raad het geweet dit is maar ongeleerde en eenvoudige mense. Die raadslede het hulle ook herken as volgelinge van Jesus.

14. En toe hulle nog boonop die gesonde man by die apostels sien staan, kon hulle niks teen hulle inbring nie.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 4