Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 28:11-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. Na drie maande het ons vertrek met die Dioskuri, 'n Aleksandrynse skip, wat daar oorwinter het.

12. Ons het in Sirakuse gekom en drie dae daar oorgebly.

13. Daarvandaan het ons verder gevaar en in Regium gekom. Die volgende dag het daar 'n suidewind begin waai, en na twee dae was ons in Puteoli.

14. Daar het ons gelowiges teëgekom wat ons uitgenooi het om sewe dae by hulle te bly. En so is ons na Rome toe.

15. Die gelowiges daar het van ons gehoor, en party van hulle het ons by die Appiusmark kom ontmoet en party by die Drie Herberge. Toe Paulus hulle sien, het hy God gedank en moed geskep.

16. Na ons aankoms in Rome het Paulus die vergunning gekry om op sy eie te woon met 'n soldaat om hom te bewaak.

17. Drie dae later het hy die Joodse leiers na hom toe uitgenooi. Toe hulle bymekaargekom het, het hy vir hulle gesê: “Broers, ek het niks teen ons volk of teen die gebruike van ons voorvaders gedoen nie, en tog is ek in Jerusalem gevange geneem en aan die Romeine uitgelewer.

18. Hulle het my verhoor en wou my loslaat omdat daar geen rede was om my ter dood te veroordeel nie.

19. Maar omdat die Jode daarteen beswaar gemaak het, is ek gedwing om my op die keiser te beroep. Dit beteken egter nie dat ek 'n aanklag teen my volk gaan inbring nie.

20. Dit is dan die rede waarom ek u laat roep het om u te ontmoet en met u te praat. Ek is in hierdie boeie ter wille van Hom vir wie Israel verwag.”

21. Toe sê hulle vir hom: “Ons het geen briewe oor u van Judea af gekry nie, en nie een van ons broers het berig oor u gebring of iets kwaads van u gesê nie.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 28