Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 27:9-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Ons het baie tyd verloor, en dit het al gevaarlik geword vir skeepvaart, want dit het al begin winter word. Paulus waarsku hulle toe:

10. “Manne, ek sien dat ons vaart van nou af gevaarlik sal wees en dat daar nie net groot skade aan die vrag en die skip gaan kom nie, maar ook lewensverlies.”

11. Die Romeinse offisier het egter meer waarde geheg aan die mening van die kaptein en die eienaar van die skip as aan wat Paulus gesê het.

12. Die hawe was nie geskik om daar te oorwinter nie, en die meeste wou liewer daarvandaan wegvaar en probeer om Feniks te bereik. Feniks was 'n hawe van Kreta wat suidwes en noordwes see toe oop lê. Daar sou hulle kon oorwinter.

13. 'n Ligte bries het uit die suide begin waai, en die manne het gedink dat hulle hulle plan sou kon uitvoer. Die anker is gelig, en hulle het so na moontlik aan die kus van Kreta gevaar.

14. Maar dit was nie lank nie toe waai daar 'n stormwind van die land af, die Noordoos, genoem die Eurakilon.

15. Die wind het die skip meegesleur. Omdat dit onmoontlik was om die skip se boeg wind op te hou, het ons dit opgegee en wind af gedrywe.

16. Ons het 'n bietjie beskutting gevind toe ons onderkant die eilandjie Kauda langs kom. Daar kon ons darem met moeite die bootjie van die skip in veiligheid bring.

17. Nadat die matrose die bootjie opgehaal het, het hulle as noodmaatreël 'n paar toue styf onder om die skip vasgemaak. Omdat hulle bang was dat die skip op die sandbanke van die Sirtis verpletter sou word, het hulle die dryfanker laat sak en die skip sommerso laat drywe.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 27