Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 26:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Agrippa sê toe vir Paulus: “Jy kan maar jou saak stel.”Met 'n handbeweging het Paulus sy verdediging begin:

2. “Koning Agrippa, ek ag my gelukkig dat ek my vandag juis voor u teen al die beskuldigings van die Jode kan verdedig,

3. veral omdat u so goed bekend is met al die Joodse gebruike en twisvrae. Ek versoek u dus om geduldig na my te luister.

4. “Al die Jode ken my geskiedenis van jongs af. Van die begin af het ek tussen my volk en in Jerusalem gewoon.

5. Hulle ken my al lankal en kan getuig, as hulle wil, dat ek my hele lewe lank lid was van die Fariseërs, die strengste party van ons godsdiens.

6. En nou staan ek tereg omdat ek my hoop gevestig het op die belofte wat God aan ons voorvaders gemaak het.

7. Ons twaalf stamme dien God nougeset dag en nag juis omdat hulle die hoop het dat Hy sal doen wat Hy belowe het. Oor hierdie hoop, U Majesteit, word ek deur die Jode beskuldig.

8. Waarom is dit vir u en ander onmoontlik om te glo dat God dooies opwek?

9. “Ek het self gedink dat ek alles in my vermoë moes doen teen die Naam van Jesus van Nasaret.

10. Dit het ek toe ook in Jerusalem gedoen. Met die magtiging van die priesterhoofde het ek baie van die gelowiges in tronke gestop, en as hulle die doodstraf opgelê word, het ek daarmee saamgestem.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 26