Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 24:6-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. Toe hy probeer het om selfs die tempel te ontheilig, het ons hom gevange geneem.

8. As ú hom oor al hierdie dinge verhoor, kan u te wete kom waarom ons hom aankla.”

9. Hiermee het die Jode saamgestem en hulle het bevestig dat dit so is.

10. Op 'n teken van die goewerneur het Paulus begin praat:“Ek weet dat u al jare lank hierdie mense se regter is. Daarom verdedig ek my saak voor u met vertroue.

11. “U kan self vasstel dat ek maar sowat twaalf dae gelede in Jerusalem aangekom het om daar te aanbid.

12. Niemand het my in die tempel of in die sinagoges of êrens in die stad gekry dat ek met iemand gestry of die skare tot oproer aangehits het nie.

13. Die beskuldigings wat hulle nou teen my inbring, kan hulle ook nie vir u bewys nie.

14. “Dit erken ek wel voor u: Ek dien die God van my voorvaders volgens die leer van Christus wat hulle 'n dwaalrigting noem. Ek glo nog steeds alles wat in die wet en die profete geskrywe staan.

15. Ek het my hoop op God gestel, en net soos hulle verwag ek dat alle mense, goeies en slegtes, uit die dood sal opstaan.

16. Daarom doen ek ook my uiterste bes om altyd 'n skoon gewete voor God en die mense te hê.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 24