Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 24:10-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Op 'n teken van die goewerneur het Paulus begin praat:“Ek weet dat u al jare lank hierdie mense se regter is. Daarom verdedig ek my saak voor u met vertroue.

11. “U kan self vasstel dat ek maar sowat twaalf dae gelede in Jerusalem aangekom het om daar te aanbid.

12. Niemand het my in die tempel of in die sinagoges of êrens in die stad gekry dat ek met iemand gestry of die skare tot oproer aangehits het nie.

13. Die beskuldigings wat hulle nou teen my inbring, kan hulle ook nie vir u bewys nie.

14. “Dit erken ek wel voor u: Ek dien die God van my voorvaders volgens die leer van Christus wat hulle 'n dwaalrigting noem. Ek glo nog steeds alles wat in die wet en die profete geskrywe staan.

15. Ek het my hoop op God gestel, en net soos hulle verwag ek dat alle mense, goeies en slegtes, uit die dood sal opstaan.

16. Daarom doen ek ook my uiterste bes om altyd 'n skoon gewete voor God en die mense te hê.

17. “Na baie jare het ek teruggekom om my mense met 'n geldelike bydrae te help en om aan God te offer.

18. Toe ek met die offers besig was, het hulle my in die tempel gekry. Ek was klaar met die reinigingshandeling, en daar was nie 'n skare of 'n gedrang om my nie.

19. Daar was net 'n paar Jode van die provinsie Asië. Dit is eintlik hulle wat hier voor u moes gewees het om my aan te kla, as hulle iets teen my kan inbring.

20. Of laat hierdie mense dan nou sê aan watter misdaad ek in my verhoor voor die Joodse Raad skuldig bevind is.

21. Al wat ek daar vir hulle gesê het, was: Ek staan vandag hier voor julle tereg omdat ek aan die opstanding van die dooies glo.”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 24