Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 22:14-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. Toe sê hy: ‘Die God van ons voorvaders het jou uitgekies om sy wil te ken, die Regverdige te sien en sy stem te hoor,

15. want jy sal vir alle mense sy getuie wees van wat jy gesien en gehoor het.

16. En nou, waarom nog wag? Kom, laat jou doop en jou sondes afwas nadat jy sy Naam aangeroep het.’

17. “Ek het na Jerusalem toe teruggegaan, en terwyl ek by die tempel besig was om te bid, het ek in geesvervoering geraak

18. en die Here gesien wat vir my gesê het: ‘Maak gou en gaan dadelik uit Jerusalem weg. Die mense hier sal nie aanvaar wat jy oor My getuig nie.’

19. Toe het ek gesê: ‘Ja, Here, hulle weet dat ek die man is wat oral in die sinagoges die mense wat in U glo, laat vang en laat slaan het.

20. En toe Stefanus, u getuie, se bloed vergiet is, het ek self daarby gestaan. Ek het dit goedgekeur en sy moordenaars se klere opgepas.’

21. Toe het die Here vir my gesê: ‘Jy moet hiervandaan weggaan, want Ek wil jou ver weg stuur, na die heidene toe.’ ”

22. Meer as dit wou die skare nie hoor nie, en hulle het begin skreeu: “Weg met hom! So 'n man behoort nie te bly lewe nie!”

23. Die skare het geskreeu, hulle klere uitgepluk en stof in die lug opgegooi.

24. Die kommandant het toe beveel dat Paulus in die kaserne ingebring moet word en dat hy gegesel moet word om vas te stel hoekom die skare hom so uitgejou het.

25. Hulle het hom alreeds vir die geseling vasgebind gehad toe Paulus vir die kaptein wat daarby staan, vra: “Mag julle 'n Romeinse burger gesel, en boonop nog sonder verhoor?”

26. Toe die kaptein dit hoor, gaan hy na die kommandant toe en sê: “Wat gaan u doen? Hierdie man is 'n Romeinse burger.”

27. Die kommandant gaan vra toe vir Paulus: “Sê vir my, is jy 'n Romeinse burger?”“Ja,” antwoord Paulus.

28. Toe sê die kommandant: “Ek het 'n groot som geld betaal om die burgerreg te verkry.”En Paulus sê: “Maar ek het dit deur geboorte gekry.”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 22