Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 21:23-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

23. Maak nou soos ons vir jou sê. Hier by ons is daar vier mans wat 'n gelofte afgelê het.

24. Neem hulle saam met jou vir die reinigingshandeling en betaal die koste daarvan, sodat hulle hulle hare kan laat afsny. Dan sal almal weet dat nie een van die gerugte wat oor jou versprei word, waar is nie, maar dat jy self die wet onderhou.

25. Ons het tog al vir die gelowiges wat vroeër heidene was, laat weet van ons besluit dat hulle nie vleis wat aan 'n afgod geoffer is, en bloed en 'n dier wat verwurg is, moet eet nie, en dat hulle onsedelikheid moet vermy.”

26. Die volgende dag het Paulus die manne geneem en die reinigingshandeling saam met hulle verrig. Hy het tempel toe gegaan en kennis gegee op watter dag die reiniging verby sou wees, wanneer die offer vir elkeen van hulle gebring sou word.

27. Toe die sewe dae van die reiniging byna om was, het Jode van die provinsie Asië vir Paulus by die tempel gesien. Hulle het die hele skare aangehits en vir Paulus gegryp.

28. “Israeliete, kom help!” het hulle geskreeu. “Hier is die man wat ons volk, die wet van Moses en die tempel oral aanval. Nou het hy boonop nog Grieke in die tempel ingebring en hierdie heilige plek ontheilig.”

29. Hulle het dit gesê omdat hulle vantevore vir Trofimus van Efese saam met Paulus in die stad gesien het en gedink het dat Paulus hom in die tempel in geneem het.

30. Die hele stad het in beroering gekom. Die mense het saamgedrom, vir Paulus gegryp en hom uit die tempel uitgesleep. Die deure is dadelik agter hulle toegesluit.

31. Die mense wou hom net doodmaak. 'n Boodskap is toe na die kommandant van die Romeinse garnisoen toe gestuur dat die hele Jerusalem in oproer is.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 21