Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 21:11-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. Hy het na ons toe gekom, Paulus se gordel gevat, sy eie hande en voete daarmee vasgebind en gesê: “So sê die Heilige Gees: Die Jode sal in Jerusalem die eienaar van hierdie gordel net so vasbind en hom aan die heidene uitlewer.”

12. Toe ons dit hoor, het ons en die mense daar vir Paulus gesmeek om nie Jerusalem toe te gaan nie.

13. Toe antwoord Paulus: “Waarom wil julle my hart sag maak met julle trane? Ter wille van die Naam van die Here Jesus is ek bereid om in Jerusalem nie net gevange geneem te word nie, maar selfs ook te sterwe.”

14. Toe ons hom nie kon oorreed nie, het ons daarin berus en gesê: “Laat die wil van die Here geskied.”

15. Na 'n paar dae het ons ons voorbereidings afgehandel en na Jerusalem toe vertrek.

16. Party van die gelowiges het van Sesarea af saam met ons gegaan. Hulle het ons by Mnason gebring, wat oorspronklik van Siprus afkomstig was en wat van vroeg af reeds 'n gelowige was. By hom sou ons tuis gaan.

17. By ons aankoms in Jerusalem het die broers ons hartlik ontvang.

18. Die volgende dag het ons saam met Paulus na Jakobus toe gegaan. Al die ouderlinge was daar teenwoordig.

19. Paulus het hulle gegroet en in besonderhede vertel wat God deur sy diens onder die heidene gedoen het.

20. Toe hulle dit hoor, het hulle God geprys en vir Paulus gesê: “Jy sien, broer, hier is duisende Jode wat gelowig geword het, maar almal onderhou die wet van Moses nog stiptelik.

21. Hulle het gehoor dat jy al die Jode wat onder die heidene woon, leer om van die wet van Moses af te sien. Jy sou hulle geleer het om nie meer hulle kinders te laat besny nie en om nie die Joodse gebruike te onderhou nie.

22. “Wat moet ons nou doen? Hulle sal beslis te hore kom dat jy hier is.

23. Maak nou soos ons vir jou sê. Hier by ons is daar vier mans wat 'n gelofte afgelê het.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 21