Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 2:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar.

2. Skielik was daar 'n geluid uit die hemel soos van 'n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het.

3. Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het.

4. Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.

5. Daar het godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon.

6. Toe die mense die geluid hoor, het 'n groot skare saamgedrom. En omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe hulle dit het nie.

7. Verras en verbaas sê hulle toe: “Die mense wat daar praat, is tog almal Galileërs.

8. Hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal?

9. Perse, Mediërs en Elamiete, sowel as die inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië,

10. Frigië en Pamfilië, Egipte en die dele van Libië om Sirene, mense uit Rome,

11. Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, Kretensers en Arabiere — ons hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het.”

12. Hulle was almal verbaas en uit die veld geslaan. Party het vir mekaar gevra: “Wat kan dit tog beteken?”

13. Maar party het gespot en gesê: “Hulle is dronk.”

14. Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek hy die mense toe: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik wat gebeur het. Luister na wat ek gaan sê:

Lees volledige hoofstuk Handelinge 2