Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 18:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Hierna het Paulus Atene verlaat en na Korinte toe gegaan.

2. Daar het hy vir Akwila, 'n Jood wat in Pontus gebore is, ontmoet. Hy het kort tevore saam met sy vrou, Priscilla, uit Italië daar aangekom, nadat keiser Claudius beveel het dat al die Jode Rome moet verlaat. Paulus het hulle gaan opsoek,

3. en omdat hulle net soos hy tentmakers van beroep was, het hy by hulle ingetrek en saam met hulle gewerk.

4. Maar elke sabbatdag het hy in die sinagoge met die mense geredeneer en Jode en Grieke probeer oortuig.

5. Nadat Silas en Timoteus van Masedonië af gekom het, het Paulus al sy tyd bestee aan die prediking om die Jode daarvan te oortuig dat Jesus die Christus is.

6. Maar toe hulle hulle aanhou verset en hom beledig, het hy die stof van sy klere afgeskud en vir hulle gesê: “As julle verlore gaan, is dit julle eie skuld. Ek aanvaar nie die verantwoordelikheid daarvoor nie. Van nou af gaan werk ek onder mense wat nie Jode is nie.”

7. Toe het hy die sinagoge verlaat en na die huis toe gegaan van 'n godvresende man met die naam Titius Justus. Sy huis was net langs die sinagoge.

8. Krispus, die hoof van die sinagoge, en sy hele huisgesin het tot geloof in die Here gekom. Ook baie ander mense in Korinte wat die boodskap gehoor het, het gelowig geword en is gedoop.

9. Een nag het die Here in 'n gesig vir Paulus gesê: “Moenie bang wees nie; hou aan met preek en moenie stilbly nie,

10. want Ek is by jou. Niemand sal jou aanval of jou kwaad aandoen nie, want in hierdie stad behoort baie mense aan My.”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 18