Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 15:25-41 Afrikaans 1983 (AFR83)

25. Daarom het ons eenparig besluit om manne te kies en na julle toe te stuur. Hulle vergesel ons geliefde Barnabas en Paulus,

26. wat hulle lewe gewaag het vir die Naam van ons Here Jesus Christus.

27. Ons stuur nou vir Judas en Silas om ook mondeling hierdie dinge aan julle oor te dra.

28. Die Heilige Gees en ons het besluit om geen verdere las op julle te lê as net hierdie noodsaaklike dinge nie:

29. dat julle nie vleis moet eet wat aan 'n afgod geoffer is nie, ook nie bloed nie en ook geen dier wat verwurg is nie, en dat julle onsedelikheid moet vermy. As julle julle van hierdie dinge weerhou, doen julle reg.“Hartlike groete.”

30. Die afgevaardigdes het afskeid geneem en na Antiogië toe gegaan. Daar het hulle al die gelowiges bymekaar laat kom en die brief oorhandig.

31. Die gelowiges het dit gelees en was baie bly oor die bemoedigende boodskap.

32. Judas en Silas, wat self ook profete was, het lank met die gelowiges gepraat en hulle bemoedig en geestelik versterk.

33. Nadat Judas en Silas geruime tyd daar gebly het, het hulle teruggegaan en die groete van die gelowiges oorgedra aan dié wat hulle afgevaardig het.

35. Paulus en Barnabas het 'n tyd lank in Antiogië gebly en saam met baie ander onderrig gegee en die woord van die Here verkondig.

36. 'n Tydjie later het Paulus vir Barnabas gesê: “Kom ons gaan kyk hoe gaan dit met die gelowiges in al die stede waar ons die woord van die Here verkondig het.”

37. Barnabas wou vir Johannes, wat ook Markus genoem is, met hulle saamneem.

38. Maar Paulus het gedink dit is nie reg om die man saam te neem wat hulle in Pamfilië verlaat het en nie end-uit die werk saam met hulle gedoen het nie.

39. Hieroor het hulle so skerp verskil dat hulle van mekaar geskei het. Barnabas het toe vir Markus geneem en met 'n skip na Siprus toe vertrek.

40. Paulus het vir Silas gekies en vertrek, nadat hulle deur die gelowiges aan die genade van die Here toevertrou is.

41. Hy het deur Sirië en Silisië gereis en die gemeentes geestelik versterk.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 15