Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 15:22-38 Afrikaans 1983 (AFR83)

22. Daarna het die apostels en die ouderlinge saam met die hele gemeente besluit om mense uit hulle geledere saam met Paulus en Barnabas na Antiogië toe te stuur. Hulle het vir Judas, wat ook Barsabbas genoem is, en vir Silas gekies, manne wat die agting van die gelowiges geniet het.

23. Hulle het die volgende brief saamgestuur:“Van die apostels en die ouderlinge, julle broers.“Aan die gelowiges uit die heidendom in Antiogië, Sirië en Silisië.“Groete.

24. “Ons het gehoor dat daar mense van ons af gekom het wat julle verwar en ontstel het deur dinge te sê waarvoor hulle geen opdrag van ons ontvang het nie.

25. Daarom het ons eenparig besluit om manne te kies en na julle toe te stuur. Hulle vergesel ons geliefde Barnabas en Paulus,

26. wat hulle lewe gewaag het vir die Naam van ons Here Jesus Christus.

27. Ons stuur nou vir Judas en Silas om ook mondeling hierdie dinge aan julle oor te dra.

28. Die Heilige Gees en ons het besluit om geen verdere las op julle te lê as net hierdie noodsaaklike dinge nie:

29. dat julle nie vleis moet eet wat aan 'n afgod geoffer is nie, ook nie bloed nie en ook geen dier wat verwurg is nie, en dat julle onsedelikheid moet vermy. As julle julle van hierdie dinge weerhou, doen julle reg.“Hartlike groete.”

30. Die afgevaardigdes het afskeid geneem en na Antiogië toe gegaan. Daar het hulle al die gelowiges bymekaar laat kom en die brief oorhandig.

31. Die gelowiges het dit gelees en was baie bly oor die bemoedigende boodskap.

32. Judas en Silas, wat self ook profete was, het lank met die gelowiges gepraat en hulle bemoedig en geestelik versterk.

33. Nadat Judas en Silas geruime tyd daar gebly het, het hulle teruggegaan en die groete van die gelowiges oorgedra aan dié wat hulle afgevaardig het.

35. Paulus en Barnabas het 'n tyd lank in Antiogië gebly en saam met baie ander onderrig gegee en die woord van die Here verkondig.

36. 'n Tydjie later het Paulus vir Barnabas gesê: “Kom ons gaan kyk hoe gaan dit met die gelowiges in al die stede waar ons die woord van die Here verkondig het.”

37. Barnabas wou vir Johannes, wat ook Markus genoem is, met hulle saamneem.

38. Maar Paulus het gedink dit is nie reg om die man saam te neem wat hulle in Pamfilië verlaat het en nie end-uit die werk saam met hulle gedoen het nie.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 15