Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 14:5-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Die heidene en die Jode saam met hulle leiers het egter oproerig begin word en wou hulle aanrand en stenig.

6. Toe die apostels dit agterkom, het hulle na Listra en Derbe en omgewing gevlug. Dit was twee stede in Likaonië.

7. Daar het hulle toe die evangelie verkondig.

8. In Listra was daar 'n man met gebreklike voete. Hy was van sy geboorte af verlam en kon nooit loop nie.

9. Hy het geluister terwyl Paulus praat. Paulus het stip na hom gekyk en gesien dat hy die geloof het om gesond gemaak te word.

10. Toe roep hy na hom: “Staan regop, op jou voete!”Die man het opgespring en hy kon loop.

11. Toe die mense sien wat Paulus gedoen het, roep hulle in Likaonies uit: “Die gode het soos mense geword en het na ons toe afgekom!”

12. Hulle het vir Barnabas Zeus genoem en vir Paulus Hermes, omdat hy die woordvoerder was.

13. Die priester van die Zeustempel, net buitekant die stad, het bulle en blomkranse na die stadspoort toe gevat, en hy wou saam met die mense offers aan die apostels gaan bring.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 14