Ou Testament

Nuwe Testament

Filippense 4:8-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is — watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees — daarop moet julle julle gedagtes rig.

9. En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees.

10. Ek was baie bly in die Here dat julle na so 'n lang tyd weer gewys het dat julle nog aan my dink. Nie dat julle my ooit vergeet het nie, julle het net nie die kans gehad om iets te doen nie.

11. Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp.

12. Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.

13. Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.

14. Nietemin het julle goed gedoen deur my in my moeilike omstandighede by te staan.

15. Julle in Filippi weet ook dat in die begin van my evangelieprediking, na my vertrek uit Masedonië, geen enkele gemeente behalwe julle 'n aandeel gehad het aan my rekening van inkomste en uitgawe nie.

16. Ook toe ek in Tessalonika was, het julle meer as een maal iets vir my behoeftes gestuur.

17. Dit gaan vir my egter nie om die gawe nie, maar om die vrug daarvan: daardeur word julle self ryker.

18. Maar ek het alles ontvang en ek het meer as genoeg. Noudat ek van Epafroditos ontvang het wat julle gestuur het, het ek alles wat ek nodig het. Julle gawe is voor God 'n offer met lieflike geur, vir Hom aanneemlik en welgevallig.

19. En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.

Lees volledige hoofstuk Filippense 4