Ou Testament

Nuwe Testament

Die Openbaring 7:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Daarna het ek vier engele by die vier hoeke van die aarde sien staan. Hulle het die vier winde van die aarde vasgehou, sodat daar geen wind op die land en op die see en teen enige boom sou waai nie.

2. Ek het ook 'n ander engel van die ooste af sien kom met die seël van die lewende God. Hy het met 'n harde stem geroep na die vier engele aan wie mag gegee is om die land en die see te tref,

3. en het vir hulle gesê: “Moenie die land en die see en die bome tref nie. Ons moet eers die dienaars van ons God op hulle voorkoppe merk met die seël.”

4. Ek het die getal gehoor van dié wat gemerk is: daar was honderd vier en veertig duisend. Hulle was uit elke stam van die volk Israel:

5. uit die stam van Juda is daar twaalf duisend gemerk,uit die stam Ruben twaalf duisend,uit die stam Gad twaalf duisend,

6. uit die stam Aser twaalf duisend,uit die stam Naftali twaalf duisend,uit die stam Manasse twaalf duisend,

7. uit die stam Simeon twaalf duisend,uit die stam Levi twaalf duisend,uit die stam Issaskar twaalf duisend,

8. uit die stam Sebulon twaalf duisend,uit die stam Josef twaalf duisend, enuit die stam Benjamin is daar twaalf duisend gemerk.

9. Hierna het ek 'n groot menigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam gestaan. Hulle het wit klere aangehad, en daar was palmtakke in hulle hande.

10. Hulle het hard uitgeroep: “Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam!”

Lees volledige hoofstuk Die Openbaring 7