Ou Testament

Nuwe Testament

Die Openbaring 3:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Skrywe aan die leraar van die gemeente in Sardis:So sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het:Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood.

2. Word wakker en versterk wat nog by julle oorgebly het, wat op die punt staan om dood te loop. Wat julle doen, vind Ek nie goed genoeg voor die oë van my God nie.

3. Dink daaraan hoe julle die evangelie ontvang en daarna geluister het. Hou daarmee vol en bekeer julle. As julle nie wakker word nie, sal Ek onverwags kom soos 'n dief, en julle sal nie weet wanneer Ek op julle sal afkom nie.

4. Maar julle het darem 'n paar mense daar in Sardis wat nie hulle klere besoedel het nie, en hulle sal altyd in wit klere by My wees omdat hulle dit waardig is.

5. Elkeen wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort.

6. Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.

7. Skrywe aan die leraar van die gemeente in Filadelfia:So sê die Heilige, die Ware God,Hy wat die sleutel van Dawid het,wat die deur oopsluiten niemand sal dit weer toesluit nie, en dit toesluit en niemand sluit dit weer oop nie:

8. Ek weet alles wat julle doen. Kyk, Ek het 'n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie. Ek weet dat julle min krag het, en tog het julle aan my boodskap vasgehou en My nie verloën nie.

9. Kyk, Ek beskik dat van die lede van die sinagoge van die Satan, die mense wat daarop aanspraak maak dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar lieg — kyk, Ek sal maak dat hulle kom en voor julle kniel en erken dat Ek julle liefhet.

10. Omdat julle aan die boodskap van my volharding in lyding vasgehou het, sal Ek julle ook vashou in die tyd van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel.

11. Ek kom gou. Hou vas wat julle het, sodat niemand julle kroon wegvat nie.

12. Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek 'n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly. Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, die nuwe Jerusalem, wat van my God af uit die hemel uit afkom. En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe.

Lees volledige hoofstuk Die Openbaring 3