Ou Testament

Nuwe Testament

Die Openbaring 14:7-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. en hy het met 'n harde stem uitgeroep: “Vrees God en gee aan Hom die eer, want die tyd het aangebreek vir sy oordeel. Aanbid Hom wat die hemel en die aarde, die see en die waterbronne gemaak het.”

8. 'n Tweede engel het agter die eerste aan gevlieg en uitgeroep: “Geval, geval het die grote Babilon wat al die nasies van die dwelmdrank van haar onsedelikheid laat drink het.”

9. 'n Derde engel het agter die eerste twee aan gevlieg en hard uitgeroep: “Wie die dier en sy beeld aanbid en 'n merk op sy voorkop of op sy hand aanvaar,

10. sal van die wyn van God se toorn moet drink. Dit word onverdun in die beker van sy oordeel ingeskink. In die teenwoordigheid van die heilige engele en die Lam sal hy met vuur en swael gepynig word.

11. Die rook van hierdie pyniging styg tot in alle ewigheid op, en hierdie mense het dag en nag geen rus nie, hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en dié wat die merk van sy naam aanvaar.”

12. Hier het die gelowiges volharding nodig, hulle wat die gebooie van God nakom en in Jesus bly glo.

13. Toe het ek 'n stem uit die hemel hoor sê: “Skryf op! Geseënd is dié wat van nou af in die Here sterwe.”“Ja,” sê die Gees, “hulle sal rus van hulle arbeid, want alles wat hulle gedoen het, volg hulle.”

14. Toe het ek 'n wit wolk gesien. Op die wolk het daar Iemand soos die Seun van die mens gesit. Hy het 'n goue kroon op sy kop gehad en 'n skerp sekel in sy hand.

15. 'n Engel het uit die tempel uitgekom en hard geroep na Hom wat op die wolk sit: “Steek u sekel in en oes, want die tyd het gekom om te oes. Die aarde is ryp vir die oes.”

16. Hy wat op die wolk sit, het toe sy sekel ingesteek op die aarde, en die aarde is afgeoes.

17. Toe het daar 'n ander engel uit die tempel wat in die hemel is, uitgekom. Hy het ook 'n skerp sekel gehad.

18. Nog 'n ander engel het van die altaar se kant af gekom. Hy het mag oor die vuur gehad en het met 'n harde stem geroep na die engel wat die skerp sekel het, en vir hom gesê: “Steek jou skerp sekel in en sny die druiwetrosse van die wingerd op die aarde af, want sy druiwe het ryp geword.”

19. Die engel het toe sy sekel op die aarde ingesteek. Hy het die wingerd op die aarde afgeoes en die oes in die groot parskuip van God se toorn gegooi.

Lees volledige hoofstuk Die Openbaring 14