Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 13:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Dit is nou die derde keer dat ek na julle toe kom. “Deur die getuienis van twee of drie getuies moet elke saak bewys word,” sê die Skrif.

2. Aan dié wat vroeër gesondig het en aan al die ander het ek voorheen toe ek by julle was, gesê, en ek sê dit nou weer vooruit terwyl ek nie by julle is nie: As ek nou weer na julle toe kom, sal ek niks en niemand ontsien nie.

3. Julle soek mos 'n bewys dat Christus deur my praat. Hy tree nie swak op teenoor julle nie, maar bewys sy krag onder julle,

4. want al is Hy gekruisig in die swakheid van 'n mens, Hy leef uit die krag van God. En in Hom is ons ook swak, maar saam met Hom sal ons uit die krag van God lewe. Dit sal julle sien.

5. Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe. Besef julle dan nie self dat Christus Jesus in julle is nie? So nie, het julle die toets nie deurstaan nie.

6. Ek hoop dan julle weet dat ons wel die toets deurstaan het.

7. Ons bid God dat julle niks verkeerds doen nie. Dit bid ons, nie dat dit as bewys moet dien dat óns die toets deurstaan het nie. Ons wil hê dat júlle die goeie doen, selfs al sou dit lyk asof ons die toets nie deurstaan het nie.

8. Ons vermag niks teen die waarheid van God nie, maar wel alles vir die waarheid.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 13