Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 11:18-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

18. Aangesien daar baie is wat op suiwer menslike gronde grootpraat, sal ek ook grootpraat.

19. Julle wat so verstandig is, verdra mos geredelik die dwaas.

20. Julle verdra dit as iemand julle soos slawe behandel, as iemand julle uitbuit, as iemand julle bedrieg, as iemand julle uit die hoogte behandel, as iemand julle in die gesig klap.

21. Laat my dan maar tot my skande erken dat ons vir sulke dinge te swak was!Nou praat ek soos 'n dwaas: enigiets waarop iemand aanspraak maak om te roem, daarop kan ek ook roem.

22. Is hulle Hebreërs? Ek ook. Is hulle Israeliete? Ek ook. Stam hulle van Abraham af? Ek ook.

23. Is hulle dienaars van Christus? En nou praat ek asof ek van my verstand af is: ek nog meer! Ek het harder gewerk, ek was meer in die tronk, ek is meer dikwels geslaan, ek was dikwels in doodsgevaar.

24. Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van nege en dertig houe gekry,

25. drie maal het ek lyfstraf gekry, en een maal is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een maal het ek 'n dag en 'n nag in die oop see deurgebring.

26. Ek was dikwels op reis en in gevaar: daar was gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van my volksgenote en gevare van heidene; gevare in die stad en gevare in die veld; gevare op see en gevare onder vals broers.

27. Daar was vir my harde werk en swaarkry, dikwels nagte sonder slaap, dikwels honger en dors; en dikwels was ek sonder kos, sonder skuiling of bedekking teen die koue.

28. Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeentes.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 11