Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 3:5-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Wat is Apollos dan? Wat is Paulus? Hulle is maar net dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, en elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het.

6. Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het.

7. Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei.

8. Die een wat plant en die een wat natgooi, staan op gelyke voet: God sal elkeen beloon volgens sy werk.

9. Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God.Julle is ook die gebou van God.

10. Volgens die genade wat God my gegee het, het ek soos 'n goeie bouer die fondament gelê, en 'n ander bou daarop. Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou,

11. want niemand kan 'n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus.

12. Of dit goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi is waarmee iemand op die fondament bou,

13. elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word. Die dag kom met vuur, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets.

14. As iemand se bouwerk bly staan, sal hy beloon word;

15. as iemand se werk verbrand, sal hy nie beloon word nie, en tog sal hy self gered word, maar soos iemand wat uit die vuur geruk is.

16. Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie?

17. As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle.

18. Niemand moet homself mislei nie. As een van julle dink dat hy volgens die maatstaf van hierdie wêreld 'n wyse man is, moet hy dwaas word sodat hy werklik 'n wyse mens kan word,

19. want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God. Daar staan tog geskrywe:“Hy vang die slimmes met hulle eie slinkse planne,”

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 3