Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 3:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Broers, ek kon met julle nie praat soos met mense wat hulle deur die Gees van God laat lei nie; ek moes praat soos met wêreldse mense, soos met kindertjies in die geloof in Christus.

2. Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste kos nie, want julle kon dit nog nie verteer nie. En julle kan dit ook nou nog nie verteer nie,

3. want julle is nog wêreldse mense. Daar kom jaloesie en twis onder julle voor. Is dit nie omdat julle nog wêrelds is en julle wêrelds gedra nie?

4. As een van julle sê: “Ek is vir Paulus,” en 'n ander: “Ek is vir Apollos,” is julle dan nie nog wêrelds nie?

5. Wat is Apollos dan? Wat is Paulus? Hulle is maar net dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, en elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het.

6. Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het.

7. Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei.

8. Die een wat plant en die een wat natgooi, staan op gelyke voet: God sal elkeen beloon volgens sy werk.

9. Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God.Julle is ook die gebou van God.

10. Volgens die genade wat God my gegee het, het ek soos 'n goeie bouer die fondament gelê, en 'n ander bou daarop. Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou,

11. want niemand kan 'n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 3