Ou Testament

Nuwe Testament

1 Johannes 3:5-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Julle weet dat Jesus gekom het om die sondes weg te neem, en daar is geen sonde in Hom nie.

6. Iemand wat in Hom bly, hou nie aan met sondig nie; iemand wat aanhou sondig, het Hom nie gesien nie en ken Hom nie.

7. Liewe kinders, moenie dat iemand julle mislei nie: wie regverdig lewe, is regverdig soos Hy regverdig is;

8. wie aanhou sonde doen, behoort aan die duiwel, want die duiwel hou van die begin af aan met sondig. En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak.

9. Iemand wat 'n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly; en hy kan nie meer sondig nie, omdat hy uit God gebore is.

10. Hiéraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die duiwel is: iemand wat nie regverdig lewe nie en nie sy broer liefhet nie, behoort nie aan God nie.

11. Dít is immers die boodskap wat julle van die begin af gehoor het: Ons moet mekaar liefhê.

12. Moenie soos Kain wees nie. Hy het aan die Bose behoort en het sy broer vermoor. En waarom het hy hom vermoor? Omdat sy eie dade sleg was en sy broer s'n reg.

13. Broers, moenie verbaas wees as die wêreld julle haat nie.

14. Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons broers lief. Wie nie liefhet nie, bly in die dood.

15. Elkeen wat sy broer haat, is 'n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe in hom het nie.

16. Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê.

17. Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie — hoe kan die liefde van God in hom wees?

18. Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.

Lees volledige hoofstuk 1 Johannes 3