Ou Testament

Nuwe Testament

1 Johannes 3:12-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Moenie soos Kain wees nie. Hy het aan die Bose behoort en het sy broer vermoor. En waarom het hy hom vermoor? Omdat sy eie dade sleg was en sy broer s'n reg.

13. Broers, moenie verbaas wees as die wêreld julle haat nie.

14. Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons broers lief. Wie nie liefhet nie, bly in die dood.

15. Elkeen wat sy broer haat, is 'n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe in hom het nie.

16. Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê.

17. Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie — hoe kan die liefde van God in hom wees?

18. Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.

19. Hierdeur kan ons ook te wete kom dat ons aan die ware God behoort en kan ons ons gewete voor Hom tot rus bring.

20. As ons gewete ons veroordeel — God is groter as ons gewete, en Hy weet alles.

21. Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God te gaan;

22. en wat ons vra, kry ons van Hom omdat ons sy gebooie gehoorsaam en doen wat Hy goedvind.

23. En dít is sy gebod: Ons moet in sy Seun, Jesus Christus, glo en ons moet mekaar liefhê ooreenkomstig die gebod wat Hy ons gegee het.

24. Wie sy gebooie gehoorsaam, bly in God en God in hom. Hiéraan weet ons dat Hy in ons bly: Hy het ons sy Gees gegee.

Lees volledige hoofstuk 1 Johannes 3