Ou Testament

Nuwe Testament

1 Johannes 3:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook. En die wêreld ken ons nie, omdat dit Hom nie ken nie.

2. Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is.

3. Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is.

4. Elkeen wat sonde doen, oortree die wet van God. Sonde is immers oortreding van die wet van God.

5. Julle weet dat Jesus gekom het om die sondes weg te neem, en daar is geen sonde in Hom nie.

6. Iemand wat in Hom bly, hou nie aan met sondig nie; iemand wat aanhou sondig, het Hom nie gesien nie en ken Hom nie.

7. Liewe kinders, moenie dat iemand julle mislei nie: wie regverdig lewe, is regverdig soos Hy regverdig is;

8. wie aanhou sonde doen, behoort aan die duiwel, want die duiwel hou van die begin af aan met sondig. En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak.

9. Iemand wat 'n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly; en hy kan nie meer sondig nie, omdat hy uit God gebore is.

Lees volledige hoofstuk 1 Johannes 3