Ou Testament

Nuwe Testament

1 Johannes 2:15-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

15. Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie.

16. Die wêreldse dinge — alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit — kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld.

17. En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.

18. Kinders, dit is die laaste uur. Julle het gehoor dat daar 'n antichris kom; en daar is nou reeds baie antichriste. Daaruit weet ons dat dit die laaste uur is.

19. Hulle het wel uit ons geledere voortgekom, maar niemand van hulle was ooit werklik een van ons nie, want as hulle werklik van ons was, sou hulle by ons gebly het. Dit moes duidelik word dat geeneen van hulle werklik een van ons is nie.

20. Julle is egter deur die Heilige Gees gesalf, en julle ken almal die waarheid.

21. Ek skrywe nie vir julle omdat julle nie die waarheid sou ken nie, maar juis omdat julle dit ken en weet dat daar geen leuen uit die waarheid voortkom nie.

22. Wie is die leuenaar anders as hy wat nie wil erken dat Jesus werklik die Christus is nie? Hý is die antichris, hy wat nie die Vader en die Seun wil erken nie.

23. Wie nie die Seun erken nie, verwerp ook die Vader; wie die Seun erken, erken ook die Vader.

24. Wat julle betref, wat julle van die begin af gehoor het, moet in julle bly. As wat julle van die begin af gehoor het, in julle bly, sal julle ook in die Seun en in die Vader bly.

25. En dít is wat die Seun ons belowe het: die ewige lewe.

26. Dit het ek aan julle geskrywe oor die mense wat vir julle wil mislei.

27. Wat júlle egter betref, die Gees waarmee Hy julle gesalf het, bly in julle, en julle het niemand anders nodig om julle te leer nie. Sy Gees leer julle alles, en wat Hy julle leer, is die waarheid en geen leuen nie. Ja, soos Hy julle geleer het, moet julle in die Seun bly.

28. En nou, liewe kinders, julle moet in Hom bly, sodat ons almal niks te vrees sal hê wanneer Hy kom nie en by sy wederkoms nie beskaamd voor Hom sal staan nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Johannes 2