Ou Testament

Nuwe Testament

Sagaría 14:11-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. En hulle sal daarin woon, en daar sal geen banvloek meer wees nie, en Jerusalem sal in veiligheid woon.

12. En dit sal die plaag wees waarmee die Here al die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer, terwyl hulle nog op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond.

13. En in dié dag sal ’n groot verwarring van die Here onder hulle kom, sodat die een die hand van die ander sal gryp, en die hand van die een hom sal verhef teen die hand van die ander.

14. En Juda sal ook in Jerusalem veg, en die rykdom van al die nasies rondom sal ingesamel word: goud en silwer en klere — ’n groot hoeveelheid.

15. En soos hierdie plaag is, sal die plaag wees van die perde, die muile, die kamele en die esels en van al die diere wat in daardie laers is.

16. En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier.

17. En wie uit die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die Koning, die Here van die leërskare, te aanbid nie — hulle sal geen reën kry nie.

18. En as die geslag van Egipte nie optrek en nie kom nie, op wie geen reën sal val nie, dan sal tog die plaag hulle tref waarmee die Here die nasies tref wat nie opgaan om die huttefees te vier nie.

19. Dit sal die straf van Egipte wees en die straf van al die nasies wat nie optrek om die huttefees te vier nie.

20. In dié dag sal op die klokke van die perde staan: Heilig aan die Here! En die potte in die huis van die Here sal wees soos die komme voor die altaar.

21. Ja, al die potte in Jerusalem en Juda sal aan die Here van die leërskare heilig wees; en almal wat wil offer, sal kom en daarvan neem en daarin kook; en in dié dag sal daar geen Kanaäniet in die huis van die Here van die leërskare meer wees nie.

Lees volledige hoofstuk Sagaría 14