Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 6:1-10 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. MAAR toe die kinders van Israel gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here, het die Here hulle oorgegee in die hand van die Midianiete, sewe jaar lank.

2. En die Midianiete het die oorhand oor Israel gekry; vanweë die Midianiete het die kinders van Israel vir hulle die slote gemaak wat op die berge is, en die gate en die bergvestings.

3. Want as Israel gesaai het, dan trek die Midianiete en Amalekiete en die kinders van die Ooste uit, en trek teen hulle op:

4. slaan laers teen hulle op en verwoes die opbrings van die land in die rigting na Gasa, en hulle laat geen lewensmiddele, geen skaap of bees of esel in Israel oorbly nie.

5. Want hulle het met hul vee en hul tente opgetrek en gekom soos sprinkane in menigte, terwyl hulle en hul kamele ontelbaar was; so het hulle dan die land ingekom om dit te verwoes.

6. En Israel het deur die Midianiete baie arm geword, maar die kinders van Israel het die Here aangeroep.

7. En toe die kinders van Israel die Here aanroep vanweë die Midianiete,

8. het die Here ’n profeet na die kinders van Israel gestuur, en dié het vir hulle gesê: So spreek die Here, die God van Israel: Ek self het julle laat optrek uit Egipte en julle uit die slawehuis uitgelei

9. en julle gered uit die hand van die Egiptenaars en uit die hand van al julle verdrukkers en hulle voor julle uit verdrywe en hulle land aan julle gegee.

10. En Ek het aan julle gesê: Ek is die Here julle God; julle mag die gode van die Amoriete in wie se land julle woon, nie vrees nie. Maar julle het nie na my stem geluister nie.

Lees volledige hoofstuk Rigters 6