Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 4:6-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. Toe laat sy Barak, die seun van Abinóam, uit Kedes in Náftali, roep en sê vir hom: Het die Here, die God van Israel, nie bevel gegee nie: Gaan, trek na die berg Tabor, en neem tienduisend man van die kinders van Náftali en van die kinders van Sébulon met jou saam?

7. dan sal Ek Sísera, die leërowerste van Jabin, met sy strydwaens en sy menigte na jou, na die spruit Kison trek, en Ek sal hom in jou hand gee.

8. Maar Barak sê vir haar: As u met my saamtrek, sal ek gaan; maar as u nie met my saamtrek nie, gaan ek nie.

9. Toe sê sy: Ek sal sekerlik met jou saamtrek, maar die eer sal nie joue wees op die pad wat jy sal gaan nie; want die Here sal Sísera in die hand van ’n vrou verkoop; en Debóra het opgestaan en saam met Barak na Kedes getrek.

10. Daarop het Barak Sébulon en Náftali bymekaargeroep na Kedes toe, en tienduisend man het op sy voetspore opgetrek, en Debóra het saam met hom opgetrek.

11. En Heber, die Keniet, het hom afgeskei van Kain, van die kinders van Hobab, die swaer van Moses, en het sy tente opgeslaan tot by die terpentynboom by Saänáim, naby Kedes.

12. En toe hulle aan Sísera berig bring dat Barak, die seun van Abinóam, na die berg Tabor opgetrek het,

13. het Sísera al sy strydwaens, negehonderd ysterwaens, en al die manskappe wat by hom was, uit Haróset van die heidene na die spruit Kison bymekaargeroep.

14. Daarop sê Debóra vir Barak: Maak jou klaar, want dit is die dag waarop die Here Sísera in jou hand gee. Trek die Here nie voor jou uit nie? Toe trek Barak van die berg Tabor af, en tienduisend man agter hom aan.

15. En die Here het Sísera met al die waens en die hele leër deur die skerpte van die swaard in verwarring gebring voor Barak uit, en Sísera het van sy wa afgeklim en te voet gevlug.

16. Maar Barak het die waens en die leër agternagejaag tot by Haróset van die heidene, en die hele leër van Sísera het deur die skerpte van die swaard geval; daar het selfs nie een oorgebly nie.

17. Toe vlug Sísera te voet na die tent van Jael, die vrou van Heber, die Keniet; want daar was vrede tussen Jabin, die koning van Hasor, en die huis van Heber, die Keniet.

Lees volledige hoofstuk Rigters 4