Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 20:30-47 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

30. En die kinders van Israel het op die derde dag teen die kinders van Benjamin opgetrek en hulle teen Gíbea opgestel soos die vorige kere.

31. En die kinders van Benjamin het uitgetrek, die manskappe tegemoet — hulle is van die stad afgesny — en, soos die vorige kere, het hulle begin om sommige van die manskappe op die grootpaaie te verslaan, waarvan die een opgaan na Bet-el, en die ander deur die veld na Gíbea — omtrent dertig man in Israel.

32. Toe dink die kinders van Benjamin: Hulle is voor ons verslaan soos die eerste keer! Maar die kinders van Israel het gesê: Laat ons vlug en hom van die stad afsny na die grootpaaie toe.

33. En al die manne van Israel het hulle stelling verlaat en hulle by Baäl-Tamar opgestel, terwyl die hinderlaag van Israel aanruk uit sy stelling, uit die oop plek by Geba.

34. En tienduisend uitgesoekte manne uit die hele Israel het teenoor Gíbea vandaan gekom, en die geveg was hewig; maar Benjamin het nie gemerk dat die onheil hulle sou tref nie.

35. Toe het die Here Benjamin voor Israel verslaan, en die kinders van Israel het op dié dag in Benjamin vyf-en-twintigduisend-eenhonderd man wat almal die swaard uittrek, vernietig.

36. So het dan die kinders van Benjamin gesien dat hulle verslaan is. En die manne van Israel het aan Benjamin terrein gegee, omdat hulle vertrou het op die hinderlaag wat hulle teen Gíbea opgestel het.

37. Toe het die hinderlaag vinnig na Gíbea gestorm — en die hinderlaag het getrek en die hele stad met die skerpte van die swaard verslaan.

38. En die manne van Israel het ’n afspraak met die hinderlaag gehad dat hulle ’n groot rookwolk uit die stad moet laat optrek.

39. Daarom het die manne van Israel omgedraai in die geveg; en die Benjaminiete het begin om onder die manne van Israel sommige neer te slaan, omtrent dertig man, want hulle het gedink: Hy is regtig heeltemal voor ons verslaan soos in die vorige geveg.

40. Intussen het die wolk begin optrek uit die stad, ’n rookpilaar; en toe Benjamin agter hom omkyk, trek die hele stad al in rook na die hemel op!

41. Toe die manne van Israel dan nou omdraai, het die manne van Benjamin geskrik, want hulle het gesien dat die onheil hulle gaan tref;

42. en hulle het voor die manne van Israel omgedraai op pad na die woestyn; maar die geveg het hulle ingehaal, terwyl die wat uit die stede kom, hulle daar tussenin vernietig:

43. hulle het Benjamin omsingel, hom agtervolg, hom op die rusplek vertrap tot teenoor Gíbea, aan die oostekant.

44. En daar het van Benjamin agttienduisend man geval, en dit almal dapper manne.

45. Toe spring hulle om en vlug na die woestyn, na die rots Rimmon; maar hulle het in die nageveg op die grootpaaie vyfduisend man van hulle gedood en hulle agternagesit tot by Gídeom en tweeduisend man van hulle verslaan.

46. En al die gesneuweldes van Benjamin op dié dag was vyf-en-twintigduisend man wat die swaard uittrek, en dit almal dapper manne.

47. Maar seshonderd man het omgedraai en gevlug na die woestyn, na die rots Rimmon en vier maande by die rots Rimmon gebly.

Lees volledige hoofstuk Rigters 20