Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 20:23-30 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

23. En die kinders van Israel het opgetrek en geween voor die aangesig van die Here tot die aand toe en die Here geraadpleeg en gesê: Moet ek weer nader trek om te veg teen die kinders van Benjamin, my broer? En die Here sê: Trek teen hom op!

24. En toe die kinders van Israel die tweede dag nader kom na die kinders van Benjamin,

25. het Benjamin uit Gíbea op die tweede dag uitgetrek om hulle te ontmoet en van die kinders van Israel nog agttienduisend man wat almal die swaard uittrek, teen die grond vernietig.

26. Daarop trek al die kinders van Israel, ja, die hele volk weg, en hulle het na Bet-el gekom; en hulle het geween en daar gebly voor die aangesig van die Here en dié dag gevas tot die aand toe en brandoffers en dankoffers voor die aangesig van die Here gebring.

27. En die kinders van Israel het die Here geraadpleeg — want die verbondsark van God was in dié dae daar,

28. en Pínehas, die seun van Eleásar, die seun van Aäron, het in dié dae voor Hom gedien — en gesê: Moet ek nog weer uittrek om teen die kinders van Benjamin, my broer, te veg, of moet ek ophou? Toe sê die Here: Trek op, want môre sal Ek hom in jou hand gee.

29. En Israel het rondom teen Gíbea hinderlae opgestel.

30. En die kinders van Israel het op die derde dag teen die kinders van Benjamin opgetrek en hulle teen Gíbea opgestel soos die vorige kere.

Lees volledige hoofstuk Rigters 20