Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 16:2-9 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. Toe die Gasiete die tyding kry: Simson het hier ingekom, omsingel hulle hom en lê hom die hele nag voor by die stadspoort, maar die hele nag het hulle hul stilgehou en gesê: Teen dagbreek sal ons hom doodmaak.

3. En Simson het gelê tot middernag; maar teen middernag het hy opgestaan en die deure van die stadspoort en die twee deurposte gegryp en dié met grendel en al uitgeruk en op sy skouers gesit en dit opgedra na die top van die berg wat teenoor Hebron lê.

4. Daarna het hy ’n vrou in die dal Sorek liefgekry, wie se naam Delíla was.

5. Toe kom die vorste van die Filistyne na haar op en sê vir haar: Haal hom oor en vind uit waardeur sy krag so groot is, en waardeur ons hom kan oorweldig en hom kan bind om hom te bedwing; dan sal ons jou elkeen elfhonderd sikkels silwer gee.

6. Toe vra Delíla vir Simson: Vertel my tog waardeur jou krag so groot is, en waarmee jy gebind kan word om jou te bedwing.

7. En Simson sê vir haar: As hulle my bind met sewe vars lyne wat nie uitgedroog is nie, dan sal ek swak word en wees soos ’n ander mens.

8. Daarop het die vorste van die Filistyne vir haar sewe vars lyne gebring wat nie uitgedroog was nie, en sy het hom daarmee gebind.

9. En terwyl haar spioene in die kamer klaar sit, sê sy vir hom: Die Filistyne op jou, Simson! Toe verbreek hy die lyne soos ’n vlasdraad breek as dit vuur ruik; maar sy krag het nie bekend geword nie.

Lees volledige hoofstuk Rigters 16