Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 14:5-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. En Simson het met sy vader en sy moeder afgegaan na Timna; en toe hulle by die wingerde van Timna kom, storm daar ’n jong leeu brullende op hom af.

6. Maar die Gees van die Here het oor hom vaardig geword; en hy het dit verskeur soos ’n mens ’n bokkie verskeur sonder dat daar iets in sy hand was; maar hy het sy vader en sy moeder nie vertel wat hy gedoen het nie.

7. Toe gaan hy af en praat met die vrou; en sy het Simson geval.

8. En ’n tyd daarna het hy teruggegaan om haar te gaan haal; en toe hy uitdraai om na die dooie leeu te kyk, was daar ’n swerm bye in die dooie liggaam van die leeu, en heuning.

9. En hy het dit uitgehaal in sy hande en aldeur geloop en eet, en na sy vader en sy moeder gegaan en aan hulle gegee; en hulle het geëet, maar dat hy die heuning uit die dooie liggaam van die leeu uitgehaal het, vertel hy hulle nie.

10. Daarop gaan sy vader na die vrou toe af, en Simson het daar ’n maaltyd berei; want so het die jongmanne gewoonlik gedoen.

11. En toe hulle hom sien, neem hulle dertig vriende om by hom te wees.

12. En Simson sê aan hulle: Laat my tog vir julle ’n raaisel opgee; as julle dit vir my reg uitlê gedurende die sewe dae van die maaltyd en dit uitvind, dan sal ek julle dertig hemde en dertig stel klere gee;

13. maar as julle dit vir my nie kan uitlê nie, dan moet júlle my dertig hemde en dertig stel klere gee. Toe sê hulle vir hom: Gee maar jou raaisel op, dat ons dit hoor.

14. En hy sê vir hulle: Spys het uit die eter uitgegaan, en soetigheid uit die sterke. En drie dae lank kon hulle die raaisel nie uitlê nie.

15. En op die vierde dag sê hulle aan die vrou van Simson: Haal jou man oor dat hy die raaisel vir ons uitlê, anders verbrand ons jou en die huis van jou vader met vuur; het julle ons genooi om ons te berowe, of hoe?

16. Toe huil die vrou van Simson by hom en sê: Jy haat my net en het my nie lief nie; jy het my volksgenote die raaisel opgegee, maar vir my het jy dit nie uitgelê nie. En hy antwoord haar: Kyk, vir my vader en my moeder het ek dit nie uitgelê nie, sou ek dit dan vir jou uitlê?

Lees volledige hoofstuk Rigters 14