Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 11:1-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN Jefta, die Gileadiet, was ’n dapper held, maar hy was die seun van ’n hoer; en Gílead was die vader van Jefta.

2. En toe die vrou van Gílead vir hom seuns baar, en die seuns van die vrou groot word, het hulle Jefta weggejaag en vir hom gesê: Jy mag in ons familie nie erwe nie, want jy is die seun van ’n ander vrou.

3. Daarop vlug Jefta van sy broers af weg en hy gaan woon in die land Tob; en ligsinnige manne het by Jefta aangesluit en saam met hom uitgetrek.

4. En ’n tyd daarna het die kinders van Ammon oorlog gevoer teen Israel.

5. Maar toe die kinders van Ammon oorlog voer teen Israel, het die oudstes van Gílead Jefta gaan haal uit die land Tob;

6. en hulle het vir Jefta gesê: Kom en wees ons aanvoerder, dat ons kan veg teen die kinders van Ammon.

7. Maar Jefta antwoord die oudstes van Gílead: Het julle my nie gehaat en my uit my vader se huis weggejaag nie? Waarom kom julle dan nou na my, nou dat julle in die benoudheid sit?

8. Toe sê die oudstes van Gílead vir Jefta: Daarom kom ons nou na jou terug, dat jy met ons kan saamtrek en teen die kinders van Ammon veg, en dat jy ons hoof kan wees oor al die inwoners van Gílead.

9. Daarop antwoord Jefta die oudstes van Gílead: As julle my laat terugkom om teen die kinders van Ammon te veg en die Here hulle aan my oorgee, dan moet ek julle hoof word.

10. Toe sê die oudstes van Gílead vir Jefta: Die Here sal hoorder wees tussen ons. Waarlik, soos jy gesê het, so sal ons doen.

11. So het Jefta dan met die oudstes van Gílead saamgegaan, en die volk het hom as hoof en aanvoerder oor hulle aangestel, en Jefta het al sy woorde voor die aangesig van die Here in Mispa gespreek.

12. Toe stuur Jefta boodskappers na die koning van die kinders van Ammon om te vra: Wat het ek met u te doen, dat u na my kom om teen my land te veg?

13. En die koning van die kinders van Ammon sê aan die boodskappers van Jefta: Israel het my land geneem toe hy opgetrek het uit Egipte, van die Arnon af tot by die Jabbok en tot by die Jordaan; gee dit dan nou in vrede terug.

Lees volledige hoofstuk Rigters 11