Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 22:2-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. My God, my God, waarom het U my verlaat, ver van my hulp, van die woorde van my gebrul?

3. My God, ek roep bedags, maar U antwoord nie; en snags, en ek kan nie swyg nie.

4. Tog is U die Heilige wat woon onder die lofsange van Israel!

5. Op U het ons vaders vertrou; hulle het vertrou, en U het hulle uitgered.

6. Hulle het U aangeroep en het ontvlug; op U het hulle vertrou en nie beskaamd gestaan nie.

7. Maar ek is ’n wurm en geen man nie, ’n smaad van die mense en verag deur die volk.

8. Almal wat my sien, spot met my; hulle steek die lip uit, hulle skud die hoof en sê:

9. Laat dit aan die Here oor! Laat Hy hom red, laat Hy hom bevry: Hy het mos behae in hom!

10. Ja, U is dit wat my uit die moederskoot uitgetrek het, wat my veilig laat rus het aan my moeder se bors.

11. Aan U is ek oorgegee van die geboorte af; van die skoot van my moeder af is U my God.

12. Wees nie ver van my af nie, want die nood is naby, want daar is geen helper nie.

13. Baie stiere het my omsingel, sterkes van Basan het my omring.

14. Hulle het hul mond teen my oopgespalk soos ’n leeu wat verskeur en brul.

15. Ek is uitgestort soos water; al my beendere raak los; my hart het soos was geword; dit het gesmelt binne-in my ingewande.

16. My krag is verdroog soos ’n potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte; en U lê my neer in die stof van die dood.

17. Want honde het my omsingel; ’n bende kwaaddoeners het my omring; hulle het my hande en my voete deurgrawe.

18. Al my beendere kan ek tel; húlle kyk, hulle sien met welgevalle op my neer!

Lees volledige hoofstuk Psalms 22