Ou Testament

Nuwe Testament

Prediker 4:2-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. Daarom het ek die dooies wat lankal gesterf het, gelukkig geprys bo die lewendes wat nog lewe,

3. en gelukkig bo hulle altwee hom wat nog nie gewees het en die verkeerde werk wat onder die son plaasvind, nie gesien het nie.

4. Verder het ek gesien dat al die moeitevolle arbeid en al die bekwaamheid by die werk naywer is van die een teenoor die ander. Ook dit is tevergeefs en ’n gejaag na wind.

5. Die dwaas vou sy hande en eet sy eie vlees op.

6. Een handvol rus is beter as altwee vuiste vol moeite en gejaag na wind.

7. En weer het ek ’n vergeefse moeite gesien onder die son:

8. Daar is een allenig sonder ’n tweede, ook het hy geen seun of broer nie; tog is daar geen einde aan al sy moeitevolle arbeid nie, sy oë kry ook nie genoeg van rykdom nie. Vir wie tog vermoei ek my en laat my siel gebrek ly aan die goeie? Ook dit is tevergeefs en ’n verkeerde saak.

9. Twee is beter as een, want hulle het ’n goeie beloning vir hulle moeitevolle arbeid.

10. Want as hulle val, kan die een sy maat optel, maar wee die een wat val sonder dat daar ’n tweede is om hom op te tel.

11. Verder, as twee bymekaar lê, kry hulle warm; maar hoe kan een allenig warm word?

12. En as iemand die een aanval, kan altwee hom teëstand bied; en ’n driedubbele lyn word nie gou verbreek nie.

13. Beter is ’n behoeftige maar wyse jongman as ’n ou maar dwase koning wat nie meer weet om hom te laat waarsku nie.

14. Want daardie een het uit die gevangenis uitgegaan om koning te word, alhoewel hy as ’n arme in die koninkryk van die ander gebore was.

Lees volledige hoofstuk Prediker 4