Ou Testament

Nuwe Testament

Númeri 5:7-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. dan moet hulle hul sonde wat hulle gedoen het, bely; daarna moet hy wat hy skuldig is, ten volle teruggee en die vyfde deel daarvan byvoeg, en hy moet dit aan dié een gee teen wie hy hom skuldig gemaak het.

8. Maar as die man geen losser het aan wie die skuld teruggegee kan word nie, behoort die skuld wat teruggegee moet word, aan die Here, aan die priester, behalwe die versoeningsram waarmee hy vir hom versoening doen.

9. En elke heffing van al die heilige gawes van die kinders van Israel wat hulle na die priester bring, moet syne wees.

10. En elkeen se heilige gawes — dit moet syne wees: wat iemand aan die priester gee, moet syne wees.

11. VERDER het die Here met Moses gespreek en gesê:

12. Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As iemand se vrou afwyk en ’n troubreuk teen hom begaan,

13. en ’n man met haar vleeslike gemeenskap het, maar dit vir die oë van haar man verborge bly en sy nie uitgevind is nie — hoewel sy haar verontreinig het — terwyl daar geen getuie teen haar is en sy nie betrap is nie;

14. en daar kom ’n gees van jaloersheid oor hom, sodat hy jaloers word op sy vrou terwyl sy haar inderdaad verontreinig het; of ’n gees van jaloersheid kom oor hom, sodat hy jaloers word op sy vrou terwyl sy haar nie verontreinig het nie;

15. dan moet die man sy vrou na die priester bring, en hy moet haar offer vir haar saambring: ’n tiende van ’n efa garsmeel; hy moet daar geen olie op giet en geen wierook daar byvoeg nie, omdat dit ’n spysoffer van jaloersheid is, ’n gedenkoffer wat die ongeregtigheid in gedagtenis bring.

16. En die priester moet haar laat nader kom en haar voor die aangesig van die Here stel.

17. En die priester moet heilige water in ’n erdepot neem; en van die stof wat op die vloer van die tabernakel is, moet die priester neem en in die water gooi.

18. Daarna moet die priester die vrou voor die aangesig van die Here stel en die hare van die vrou losmaak, en hy moet die gedenkoffer op haar hande sit — ’n spysoffer van jaloersheid is dit; en in die hand van die priester moet daar wees die water van bitter smart wat die vloek bring.

19. En die priester moet haar besweer en aan die vrou sê: As geen man met jou gemeenskap gehad het nie, en jy, terwyl jy aan jou man toebehoort het, nie afgewyk het in onreinheid nie — wees dan vry van hierdie water van bitter smart wat die vloek bring.

20. Maar as jy, terwyl jy aan jou man toebehoort het, afgewyk en jou verontreinig het deurdat ’n man behalwe jou eie man met jou vleeslike gemeenskap gehad het —

21. so moet dan die priester die vrou met die eed van vervloeking besweer, en die priester moet aan die vrou sê: Mag die Here jou tot ’n vervloeking en ’n verwensing maak onder jou volk deurdat die Here jou heup laat inval en jou skoot laat opswel;

22. en mag hierdie water wat die vloek bring, in jou ingewande ingaan om die skoot te laat opswel en die heup te laat inval. Dan moet die vrou sê: Amen, amen!

Lees volledige hoofstuk Númeri 5