Ou Testament

Nuwe Testament

Númeri 4:7-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. Hulle moet ook oor die toonbroodtafel ’n pers doek uitsprei en daarop neersit die skottels en die rookpanne en die bekers en die drankofferkanne; ook moet die altyd-blywende brood daarop wees.

8. Daarna moet hulle ’n skarlaken doek daaroor uitsprei en dit met ’n dekkleed van robbevelle toemaak en sy draaghoute insteek.

9. Dan moet hulle ’n pers doek neem en die kandelaar tot verligting bedek, met sy lampe en sy snuiters en sy bakkies en al sy oliekanne waarmee hulle daarby diens doen.

10. En hulle moet dit met al sy gereedskap op ’n dekkleed van robbevelle neerlê en dit op die draagbaar sit.

11. En oor die goue altaar moet hulle ’n pers doek uitsprei en dit met ’n dekkleed van robbevelle toemaak en sy draaghoute insteek.

12. Hulle moet ook al die gereedskap neem waarmee hulle diens in die heiligdom doen, en dit op ’n pers doek neerlê en met ’n dekkleed van robbevelle toemaak en dit op die draagbaar sit.

13. En hulle moet die as van die altaar verwyder en daar ’n purper doek oor uitsprei.

14. En hulle moet al sy gereedskap daarop neersit waarmee hulle daarby diens doen: die vuurpanne, die vurke en die skoppe en die komme, al die gereedskap van die altaar; en hulle moet daar ’n dekkleed van robbevelle oor uitsprei en sy draaghoute insteek.

15. En eers nadat Aäron en sy seuns, by die opbreek van die laer, klaar is met die toemaak van die heiligdom en van al die gereedskap van die heiligdom, moet die seuns van Kehat kom om te dra; maar hulle mag nie aan die heilige dinge raak nie, sodat hulle nie sterwe nie. Hierdie dinge is dit wat die seuns van Kehat moet dra van die tent van samekoms.

16. En die toesig van Eleásar, die seun van die priester Aäron, gaan oor die olie vir die kandelaar en die reukwerk van speserye en die voortdurende spysoffer en die salfolie; die toesig oor die hele tabernakel en oor alles wat daarin is: die heiligdom en bybehorende gereedskap.

17. En die Here het met Moses en Aäron gespreek en gesê:

18. Sorg dat die stam van die geslagte van die Kehatiete nie onder die Leviete uitgeroei word nie.

19. Maar doen vir hulle dit, sodat hulle lewe en nie sterwe nie as hulle na die hoogheilige dinge aankom: Aäron en sy seuns moet ingaan en hulle aanstel elkeen oor sy dienswerk en oor wat hy moet dra.

20. Maar hulle moet nie inkom om vir ’n oomblik die heiligdom te sien nie, sodat hulle nie sterwe nie.

21. En die Here het met Moses gespreek en gesê:

22. Neem die volle getal op ook van die seuns van Gerson volgens hulle families, volgens hulle geslagte.

23. Jy moet hulle tel van dertig jaar oud en daarbo, tot vyftig jaar, almal wat verplig is om diens te doen, om dienswerk te verrig by die tent van samekoms.

24. Dit sal die dienswerk van die geslagte van die Gersoniete wees by die diens en by die vervoer:

Lees volledige hoofstuk Númeri 4