Ou Testament

Nuwe Testament

Númeri 35:1-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN die Here het met Moses gespreek in die vlaktes van Moab, by die Jordaan van Jérigo, en gesê:

2. Gee bevel aan die kinders van Israel dat hulle aan die Leviete van hulle erflike besitting stede gee om te bewoon; ook moet julle weiveld rondom die stede aan die Leviete gee.

3. En die stede moet vir hulle dien om te bewoon; maar die weiveld wat daarby behoort, moet vir hulle diere en hulle besitting en al hulle lewende hawe wees.

4. En die weiveld van die stede wat julle aan die Leviete gee, moet van die stadsmuur af buitentoe duisend el rondom wees.

5. En julle moet buitekant die stad meet: aan die oostekant tweeduisend el en aan die suidekant tweeduisend el en aan die westekant tweeduisend el en aan die noordekant tweeduisend el, en die stad in die middel. Dit moet vir hulle as weiveld van die stede dien.

6. En die stede wat julle aan die Leviete gee, moet die ses vrystede wees wat julle moet gee, dat die een wat ’n doodslag begaan het, daarheen kan vlug; en daarby moet julle twee-en-veertig stede gee.

7. Al die stede wat julle aan die Leviete gee, moet wees agt-en-veertig stede, hulle saam met hul weiveld.

8. En wat die stede betref wat julle uit die besitting van die kinders van Israel gee — julle moet van die wat baie is, baie neem, en van die wat min is, min neem; elke stam moet van sy stede aan die Leviete gee volgens die erfdeel wat elkeen gaan kry.

9. Verder het die Here met Moses gespreek en gesê:

10. Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle deur die Jordaan na die land Kanaän trek,

11. moet julle gunstig geleë stede vir julle uitsoek; as vrystede moet hulle vir julle dien, dat die een wat ’n doodslag begaan het, een wat per ongeluk ’n mens doodgeslaan het, daarheen kan vlug.

12. En die stede moet vir julle as toevlug dien vanweë die bloedwreker, sodat hy wat ’n doodslag begaan het, nie sterwe voordat hy voor die vergadering gestaan het om geoordeel te word nie.

13. En die stede wat julle gee, moet vir julle, ses in getal, as vrystede dien.

14. Drie van die stede moet julle oos van die Jordaan gee, en drie daarvan moet julle in die land Kanaän gee; vrystede moet hulle wees.

15. Vir die kinders van Israel en die vreemdeling en die bywoner onder hulle moet hierdie ses stede as toevlug dien, sodat elkeen daarheen kan vlug wat per ongeluk ’n mens doodgeslaan het.

16. Maar as hy hom slaan met ’n ystervoorwerp, sodat hy sterwe, dan is hy ’n moordenaar; die moordenaar moet sekerlik gedood word.

17. En as hy hom slaan met ’n klip in die hand — waardeur iemand kan sterwe — en hy sterwe, dan is hy ’n moordenaar; die moordenaar moet sekerlik gedood word.

18. Of as hy hom slaan met ’n houtvoorwerp in die hand — waardeur iemand kan sterwe — en hy sterwe, dan is hy ’n moordenaar; die moordenaar moet sekerlik gedood word.

Lees volledige hoofstuk Númeri 35