Ou Testament

Nuwe Testament

Númeri 22:26-40 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

26. En die Engel van die Here het weer verder gegaan en bly staan op ’n nou plek waar geen pad was om regs of links uit te draai nie.

27. Toe die esel die Engel van die Here sien, gaan sy onder Bíleam lê. Daarop het Bíleam baie kwaad geword en die esel met ’n stok geslaan.

28. Maar die Here het die bek van die esel geopen, en sy sê vir Bíleam: Wat het ek jou gedoen, dat jy my nou al drie maal geslaan het?

29. Daarop antwoord Bíleam die esel: Omdat jy die spot met my drywe. Was daar net ’n swaard in my hand — dan het ek jou sekerlik doodgeslaan.

30. En die esel sê vir Bíleam: Is ek nie jou esel waar jy jou lewe lank op gery het tot vandag toe nie? Was dit ooit my gewoonte om so met jou te doen? En hy antwoord: Nee.

31. Toe open die Here die oë van Bíleam, sodat hy die Engel van die Here in die pad sien staan met sy ontblote swaard in sy hand, en hy het gebuig en op sy aangesig neergeval.

32. En die Engel van die Here vra hom: Waarom het jy jou esel nou al drie maal geslaan? Kyk, Ek self het uitgegaan as ’n teëparty, want jou weg loop gevaarlik steil in my oog!

33. Maar die esel het My gesien en nou al drie maal voor My uitgedraai. As sy nie voor My uitgedraai het nie — dan het Ek jou alte seker gedood en haar laat lewe.

34. Toe antwoord Bíleam die Engel van die Here: Ek het gesondig, want ek het nie geweet dat U teenoor my in die pad gestaan het nie. Maar nou, as dit verkeerd is in u oë, sal ek teruggaan.

35. En die Engel van die Here sê vir Bíleam: Gaan saam met die manne, maar net die woord wat Ek jou sê, dit moet jy spreek. So het Bíleam dan met die vorste van Balak saamgegaan.

36. Toe Balak hoor dat Bíleam kom, het hy uitgetrek hom tegemoet na Ir-Moab wat by die grens van die Arnon lê, by die uiteinde van die grondgebied.

37. En Balak sê vir Bíleam: Het ek nie herhaaldelik na jou gestuur om jou te laat roep nie? Waarom het jy nie na my gekom nie? Is ek werklik nie in staat om jou te vereer nie?

38. En Bíleam het Balak geantwoord: Hier het ek na jou gekom. Is ek nou wel in staat om iets te spreek? Die woord wat God in my mond lê, dit sal ek spreek.

39. Bíleam het toe saam met Balak gegaan, en hulle het by Kirjat-Husot gekom.

40. En Balak het beeste en kleinvee geoffer en daarvan aan Bíleam gestuur en aan die vorste wat by hom was.

Lees volledige hoofstuk Númeri 22