Ou Testament

Nuwe Testament

Númeri 22:22-34 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

22. Maar die toorn van God het ontvlam, omdat hy weggetrek het; en die Engel van die Here het gaan staan in die pad as sy teëparty, terwyl hy op sy esel ry en sy twee dienaars by hom was.

23. En die esel het die Engel van die Here in die pad sien staan, met sy ontblote swaard in sy hand; daarom het die esel uit die pad uitgedraai en die veld ingeloop. Maar Bíleam het die esel geslaan om haar na die pad te stuur.

24. Daarop gaan die Engel van die Here in ’n hol pad tussen die wingerde staan — ’n muur duskant en ’n muur anderkant.

25. En toe die esel die Engel van die Here sien, druk sy haarself teen die muur en druk ook Bíleam se voet teen die muur; daarom het hy haar weer geslaan.

26. En die Engel van die Here het weer verder gegaan en bly staan op ’n nou plek waar geen pad was om regs of links uit te draai nie.

27. Toe die esel die Engel van die Here sien, gaan sy onder Bíleam lê. Daarop het Bíleam baie kwaad geword en die esel met ’n stok geslaan.

28. Maar die Here het die bek van die esel geopen, en sy sê vir Bíleam: Wat het ek jou gedoen, dat jy my nou al drie maal geslaan het?

29. Daarop antwoord Bíleam die esel: Omdat jy die spot met my drywe. Was daar net ’n swaard in my hand — dan het ek jou sekerlik doodgeslaan.

30. En die esel sê vir Bíleam: Is ek nie jou esel waar jy jou lewe lank op gery het tot vandag toe nie? Was dit ooit my gewoonte om so met jou te doen? En hy antwoord: Nee.

31. Toe open die Here die oë van Bíleam, sodat hy die Engel van die Here in die pad sien staan met sy ontblote swaard in sy hand, en hy het gebuig en op sy aangesig neergeval.

32. En die Engel van die Here vra hom: Waarom het jy jou esel nou al drie maal geslaan? Kyk, Ek self het uitgegaan as ’n teëparty, want jou weg loop gevaarlik steil in my oog!

33. Maar die esel het My gesien en nou al drie maal voor My uitgedraai. As sy nie voor My uitgedraai het nie — dan het Ek jou alte seker gedood en haar laat lewe.

34. Toe antwoord Bíleam die Engel van die Here: Ek het gesondig, want ek het nie geweet dat U teenoor my in die pad gestaan het nie. Maar nou, as dit verkeerd is in u oë, sal ek teruggaan.

Lees volledige hoofstuk Númeri 22